小东西敏感成这样楼顶老师,要命的小东西咬的真紧古代版


SOSSUSVLEI - SESRIEM - SOLITAIRE EN HELMERINGHAUSEN

Kliek eenvoudig op die foto om meer inligting oor die spesifieke lodge/kampeerplek te kry of om ‘n bespreking te maak



– ’n ekovriendelike bestemming wat in 2006 as Namibië se beste lodge bekroon is. Sossusvlei Lodge is by Sesriem en die ingang na die Sossusvlei-parkgebied.


Desert Dune Lodge is die toppunt van luukse 2 km vanaf Sesriem in die park. Die Desert Dune Lodge is binne die grense van die park geleë. Jy hoef dus nie te wag vir die hekke om oop te maak voordat jy die duine aandurf nie.


– ’n opwindende selfsorg-lodge vir gesinne, slegs 4 kilometer vanaf Sossusvlei Lodge op die privaat reservaat. Sossusvlei Desert Camp bied luukse, maar bekostigbare akkommodasie by die kamp aan.


Desert Homestead en Perderitte is 33 km suid van Sesriem. Die lodge verskaf uitstekende akkommodasie en is bekend vir hul perde en perde-roetes.


Namib Desert Lodge is 40 km noord van Sossusvlei oppad na Solitaire by die versteende duine. Die tuin van die lodge en die uitsig oor die versteende duine is eerlikwaar skouspelagtig.


Betesda Lodge – op ‘n pragtige plaas geleë. Betesda Ruskamp verskaf kamers wat met plat klippe uit die berge van Betesda gebou is. (45 km suid van Sesriem)


Solitaire Country Lodge. Bekende lodge, restaurant en winkel is 100 km noord van Sesriem. Hierdie lodge kan as ‘n bestemming op sy eie beskryf word, weens die afstand vanaf Sossusvlei.


Hotel Helmeringhausen ‘n Juweel vir enige reisiger. Maak seker dat jy minstens vir ‘n maaltyd stilhou, of geniet die eenvoud van die oornagverblyf. 180 km suid van Sesriem.

SOSSUSVLEI, SESRIEM EN DIE NAMIBWOESTYN

Die groot aantreklikheid van die suidelike streek is die skouspelagtige Sossusvlei, ‘n kleipan wat gevorm is toe die bewegende duine van die Namib die loop van die Tsauchab-rivier versper het. Die gebied word deur majestueuse stervormige duine met kurwes omring en is ‘n fotograaf se droom.

Die pan kan tot vir ‘n dekade lank droog bly, maar na swaar reën kan dit selfs vir ‘n jaar lank water hou. Die pragtige “DeadVlei” (Dooie Vlei) met sy wit kleivloer en dooie kameeldoringbome is ook naby.
Sesriem, die poort na Sossusvlei, is vernoem na ‘n canyon van 30 m diep, wat gevorm is toe die Tsauchab-rivier die saamgestelde rots uitgekalwe het.

Namib Sand Natuurreservaat, 60 km suid van Sesriem, is Namibië se grootste privaat reservaat. Die diversiteit van die landskap is indrukwekkend en dor en verteenwoordig omtrent al die fasette van die Namib-woestyn. 
Vir diegene wat natuurtonele, atmosfeer en die ongewone waardeer, is daar min dinge wat by Sossusvlei en die Namib-woestyn kan kers vashou. Dis ‘n wildernis, ‘n grootse uitgestrekte plek, ru en primitief. Dit is egter ook ‘n plek waar die lewe ontdek het dat Moeder Natuur, selfs in haar suinigste buie, nog genade kan betoon. 
Hier, waar ‘n windwoestynlandskap soos die Namib en veral die Sossusvlei-gebied, sonder reën of oppervlakwater geskep is, het Moeder Natuur ingegee. Sy verskaf digte misbanke waarmee ‘n verstommende aantal en verskeidenheid lewensvorme gevoed word.

Selfs in ‘n verlate plek soos Sossusvlei word die genadeloosheid versag deur die wind, wat klein brokkies plantmateriaal die woestyn in dra, wat die voedingsbron verskaf wat ‘n hele ketting lewensvorme laat begin. Die doodse stilte word op ‘n vreemde manier verlig deur die windjie wat tussen die sandduine waai. Alhoewel die afsondering van die plek oneindig is, kan ‘n mens eenvoudig nie alleen voel nie. 
In die nag, in die kristalhelder naghemel, lyk dit asof die lug aan die brand is, en die Melkweg gloei soos ‘n skeur in die ruimte waardeur ‘n mens die paradysligte kan sien skyn.

In die taal van die Nama-mense beteken “Namib” ‘n uitgestrekte vlakte met geen einde nie. In vandag se geografiese terminologie, word die naam op die hele dorre kusstrook toegepas wat van 80 km tot 140 km breed kan wees. Dit strek van die sandveld aan die noordelike punt van die winterreënvalstreek van die Kaap tot so ver noord as die gebied om Mossamedes in Angola. Hierdie gebied word geriefshalwe in drie dele deur geograwe verdeel.

In die suide is die oorgangs-Namib, wat noord strek tot ongeveer by die lyn wat deur die hoofpad vanaf Aus na Luderitz gevorm word. Noord van hierdie pad lê die middel-Namib, wat deur die Nama-stam die “Gobaba” genoem word en waar die Sossusvlei-gebied is. Dit is die skynbaar eindelose vlaktes van die duingebied, die see van sand, die mooiste deel van die woestyn - 400 km lank en 140 km breed. Die gebied eindig skielik by die vallei van die Kuiseb-rivier. Noord van die rivier is die noordelike Namib, ‘n gebied van dorre gruisvlaktes.

Die duinesee, oftewel die middel-Namib om Sossusvlei, is ‘n woestyn van woestyne. Die duine kan tot 275 m hoog word – hul naaste mededingers in die leë kwart van Arabië word slegs sowat 200 m hoog. Die duine by Sossusvlei is nie net reusagtig nie, maar hulle is ook waarlik pragtig. Die ouer duine verkleur rooi weens die oksidasie van yster en piepklein brokkies granaatsteen. Die jonger duine is grys.

Waar het al die sand waaruit die reuse duine van Sossusvlei bestaan, vandaan gekom? Die Namib is omtrent 80 miljoen jaar gelede gebore. Iets het op daardie stadium gebeur wat die weerstoestande laat verander het. Miskien het die Aarde ‘n klein stampie vanuit die buitenste ruim ontvang, wat ‘n skielike verandering in die see langs die suidwestelike kus van Afrika veroorsaak het.

‘n Kragtige seestroom, ‘n reëlmatige “rivier van koue water” wat in Antarktika ontstaan, het noordwaarts teen die kus op begin vloei. Hierdie koue stroom (10°C tot 20°C) is bykans 150 km breed en beweeg teen omtrent 3,5 knope per uur. Die teenwoordigheid van hierdie koue “rivier” wat teenaan die kuslyn van Namibië vloei, isoleer die kus van die buitenste warm oseaan. Die heersende westewinde waai vog uit die warmer water op, maar, wanneer dit die koue stroom oorsteek, word die wind afgekoel. Die wind kan dus nie nog vog uit die koue water opwaai nie, en die vog wat alreeds in die wind vasgevang is, verander in ‘n klam mis weens die skielike daling in temperatuur.

Die mis rol oor die kus en bedek die Namib. Weens kondensasie van die mis is daar wel vog, maar geen behoorlike reën nie. Enige reën wat wel in die woestyn val, kom van die oostelike oseaan af – wat baie ver daarvandaan is. Die meeste van die vog wat in die oostewinde vasgevang is, val as reën op die hooglande van die binneland. Namate hierdie winde oor die plato swiep en neerdaal na die kusstreke, word hulle onplesierig warm, reënval verminder, en die winde het ‘n skroeiende, dehidrerende uitwerking.

Die Namib kan natuurlik wispelturig wees. Die teenstellings word ten beste in die woestyn se onderhouding en ondersteuning van lewe gesien. Volgens al die aanvaarde ontledings van woestyne behoort geen lewe hier voor te kom nie. ‘n Woestyn word gewoonlik omskryf as ‘n gebied waar die potensiële verdamping ten minste twee keer groter as die gemiddelde presipitasie is. In die Namib is dit ongeveer 200 keer groter.

Die potensiële verdamping is gemiddeld 3 500 mm per jaar, terwyl die gemiddelde presipitasie slegs omtrent 18 mm is. Enige vloeistof wat op die woestynoppervlak beland, word dus dadelik verwyder, amper soos lug wat in ‘n vakuum verdwyn. Hoe kan soveel lewende organismes dan hier voorkom? Die antwoord op die meeste vrae wat in die Namib gevra word, word deur die wind gefluister.

Die wind en die koue Benguela-seestroom was die ouers van die duine by Sossusvlei. Heuwels en berge is geleidelik tot stof verweer deur die onophoudelike wind wat die rotse afslyt – rotse wat reeds verswak is deur uitsetting en inkrimping weens die warm dae en koue nagte. Riviere in vloed dra die sand dan see toe, waar die golwe dit terugspoel op die strand, en die wind dit weer terugdra woestyn toe. Die duinesee om Sossusvlei lë in die gebied waar die meeste wind waai. Dit het dus die meeste sand. Die reuse duine word in parallelle riwwe en valleie gewaai, wat van noord na suid loop. Dit bedek ‘n reuse vlakte wat deur die opgedroogde oorblyfsels van oeroue riviervalleie deurkruis word, en gemerk word deur die geraamtes van eilandagtige heuwels.

Selfs al voer die wind hierdie verwoesting en transformasie uit, bring dit ook die dinge wat lewe onderhou. Die warm oostewind bring brokkies plantegroei vanaf die platorand. Hierdie droë afval wat oënskynlik maar onaptytlik lyk, is die lewensaar van primitiewe organismes soos vismotte, wat hierop teer waar dit aan die voet van duine vasgevang word. Ongeveer 200 verskillende spesies kewers voed ook op hierdie stof, en ook op die vismotte. Skerpioene, spinnekoppe, akkedisse, verkleurmannetjies, krieke, perdebye en likkewane verorber die vismotte, kewers en mekaar. Die vreemde klein goue molle (slegs 5 cm lank) vreet alles wat hulle kan vang. Woestyn-adders jag in die sand terwyl hulle teen die sandduine uitklim met hul eienaardige sywaartse beweging. Slangvretende arende maak jag op die slange, en die jakkalse eet alles.

Dit word vertel dat die woord “Kuiseb” in die Nama-taal ‘n kloof beteken. Die naam beskryf moontlik die steil canyon waardeur die rivier ‘n pad vanaf die binnelandse hooglande tot by die kusterras van die Namib uitkerf. Daar is nie nog ‘n rivier soos die Kuiseb elders ter wêreld nie, omdat Moeder Natuur etlike baie belangrike take daaraan toegeken het – elkeen van aansienlike belang vir die mens.

Die Kuiseb vloei slegs sporadies op die oppervlak. Hierdie sporadiese oppervlakvloed is van uiterste belang, omdat die rivier gedurig teen die groot sandduine van die suide moet baklei. Die duine probeer deurgaans om die rivier oor te steek. Hulle wil noordwaarts tot by die gruisvlaktes beweeg, maar die rivier blokkeer hardnekkig hierdie opmars. Die periodieke oppervlakvloede dra die indringende sand see toe. Slegs by die delta van die rivier, waar oppervlakwater selde (behalwe tydens ongewoon drastiese oorstromings) by die see uitkom, maak die duine enige vordering. Deur hierdie enkele swak plek in die Kuiseb dwing hulle hul pad oop en beweeg triomfantelik teen die kus op tot die Swakop-rivier hul pad uiteindelik blokkeer.

Die skouspel van die reuse rooi duine wat bo die kronkelende vallei van die Kuiseb uittroon, is ontsagwekkend. Die sand is deurgaans besig om te infiltreer, klim skelm oor rante, of gly skielik soos ‘n klein grondverskuiwing teen ‘n meer aggressiewe duinaf. Dit lyk onvermydelik dat die droë rivierloop die onderspit gaan delf. Slegs reën in die binneland kan krag aan die rivier gee om weerstand te bied en die opdringerige sand weg te vee.

Die Kuiseb word heel gepas as ‘n lineêre oase bestempel. In totale teenstelling met die duine van die suide en die vlaktes van die noorde, is die oewer en die loop van die rivier met pragtige bome en ryk plantegroei bedek. Akasias, wildevye en tamariskbome floreer langs die Kuiseb en dit is ook ‘n tuiste vir die nara-waatlemoen. Hierdie komkommeragtige klein waatlemoene voorsien die meeste lewensvorme van kos. Die Topnaars, ‘n klein nasietjie van omtrent 200 onder die aanvoering van ‘n hoofman genaamd Esau Kooitjie, woon langs die Kuiseb.

Een van die belangrikste navorsingspligte van wetenskaplikes in die Namib is om die vlakke van ondergrondse water te monitor. Weens die pomp van reuse hoeveelhede water om Walvisbaai, Swakopmund en die myngebiede soos Rossing van water te voorsien, kan die moontlike uitputting van die waterbronne ‘n verlaging in die gevestigde watertafel veroorsaak. Dit kan rampspoedige gevolge hê. Bome en plantegroei sal verdor, lewe sal nie meer in die vallei onderhou kan word nie en die rivier kan sy stryd teen die sandduine verloor. As die duine eers die Kuiseb oorgesteek het, is dit onvermydelik dat die duine die gruisvlaktes sal inneem. Dit is moeilik om jouself die gevolge van so ‘n verandering voor te stel. Dit is van uiterse belang dat ‘n balans behou word, en dat slegs soveel water as wat deur die binnelandse reëns aangevul kan word, uitgepomp word.

In 1968 is die Naukluft-plaas gekoop en as ‘n veilige oord vir Hartmann se bergsebra geproklameer. Na ‘n ekologiese opname in 1970, is die meeste van die Naukluft-berglandmassa by verskeie privaat eienaars gekoop. Later is grond aan die westekant van Naukluft bygevoeg om ‘n deurgangsroete vir die jaarlike migrasie van gemsbok tussen die duingebied en die berge te skep. 
In 1979 is die meeste van Diamantgebied 2 suid van die Kuiseb-rivier, insluitend Sesriem en Sossusvlei, afgestaan vir bewaring. Hierdie gebied, onbesette staatsgrond, die Namib-Woestynpark en die Naukluft Bergsebrapark is gekonsolideer om die Namib-Naukluft Park van 23 340 km2 te vorm.

Om Sossusvlei te verken is ‘n onvergeetlike ervaring vir die fynproewers van reis, kleur, atmosfeer en natuurtonele. Die gruispaaie is voldoende en gemerk.